Androginie

'n Rebis van 1617. Dit is 'n gesamentlike manlike en vroulike figuur wat in die Middeleeue en vroeë moderne gekiedenis 'n algemene androginiese ikoon was.

Androginie is wanneer 'n mens beide manlike en vroulike eienskappe besit.[1] Androginie kan gebruik word in verband met biologiese geslag, genderidentiteit of genderuitdrukking. Wanneer "androginie" verwys na gemengde biologiese geslagseienskappe in mense, verwys dit dikwels na interseks mense, wat gebore is met aangebore variasies wat dit moeilik maak om hulle geslag by geboorte te bepaal. In vergelyking is hermafroditisme die besit van beide manlike en vroulike voortplantingsorgane.[2] Dit word deesdae as neerhalend beskou as dit vir mense gebruik word.

Wat genderidentiteit betref, kan androginiese individue identifieer met niebinêre identiteite. Ander kan as transgender identifiseer. Op fisieke gebied kan 'n androginiese voorkoms bereik word deur persoonlike versorging, modes en hormoonbehandeling.

Androginie word vroeg in die geskiedenis al in geskrifte aangetref, asook in baie kulture wêreldwyd – van antieke Sumer tot latere Mesopotamiese kulture en die Griekse mitologie. Volgens Plato se Simposium het die mensdom as drie geslagte begin: man-mans, vrou-vroue en man-vroue. Sommige filosowe het in die laat oudheid die idee van androginie voorgestel as die mens se oorspronklike en perfekte toestand.

Die Westerse esoterisme se omarming van androginie het tot in die moderne geskiedenis voortgeduur. Die simbolisme en betekenis van androginie was sentraal in die idees van die sommige mistici en filosowe. Die filosofiese begrip van die "Universele Androgien" – 'n perfekte vermenging van die geslagte wat die huidige korrupte wêreld voorafgegaan het en/of die utopie van die volgende wêreld sal wees – is ook belangrik in sommige vorme van die geloof van die Orde van die Rosekruis.

In die middel 18de eeu nog was die macaroni's van Georgiaanse Engeland 'n welgestelde subkultuur van jong mans wat bekend was vir die uitdrukking van androginiese identiteit.

In die 1900's, van om en by die Eerste Wêreldoorlog, het genderrolle begin vervaag en modeontwerpers soos Coco Chanel het broeke vir vroue ontwerp. In die 1960's en 1970's het die vrouebevrydingsbeweging waarskynlik tot idees bygedra en modeontwerpers soos Yves Saint Laurent beïnvloed.

Bekende sangers wat in die moderne tyd 'n androginiese styl met hulle kleredrag bekend gestel het, was Elvis Presley, Mick Jagger, Boy George, Yoshiki, Grace Jones en Annie Lennox.

  1. Chris Park; Michael Allaby (2017). A Dictionary of Environment and Conservation (3de uitg.). Oxford University Press. p. Androgyny. ISBN 9780191826320.
  2. Britannica, The Editors of Encyclopaedia. Encyclopedia Britannica. p. Hermaphroditism. Besoek op 29 Januarie 2022.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search